30 Junie 2004

Article with Sarie featuring Marriana Booyens with illustrations and paintings for Stef Bos’ poetry book.

Marriana Booyens verkies dat ons die onderhoud in haar kamer voer. Dis waarom ons op ’n Vrydagmiddag soos twee maats ná skool met gekruiste bene op haar bed sit met tee en koekies. Haar kamer, in ’n huis op Stellenbosch,wat sy met ’n surfer deel, is ook haar studio. Skuins oor die bed staan haar esel. Agter die esel, in die hoekie, staan twaalf helderkleurige voltooide skilderye. Twaalf Nederlandse gedigte is teen die muur geplak, ook ’n paar swart-en-wit foto’s. Op een van die foto’s staan die Belgiese sanger Stef Bos met oorfone op.

Stef het vroeër dié maand met ’n landwye toer in Suid-Afrika sy eerste digbundel, Gebroke Sinne*, bekendgestel. Die gedigte handel oor die “samekoms en ontmoeting van wêrelde eens verwyderd”. Vir plaaslike liefhebbers van Stef se gedagtes is die boek ook spesiaal in Afrikaans vertaal deur die Suid-Afrikaanse digter Ronel Nel. Marriana het twaalf van die gedigte geïllustreer en die boekomslag ontwerp. Die bundel verskyn ook in België en Nederland. Sy is ’n voltydse dosent in illustrasie-kuns aan die Stellenbosch Academy for Design and Photography. Twee jaar gelede, toe sy hoopvol, maar werkloos was, het sy besluit om Stellenbosch toe te verhuis. Dit was egter by haar alma mater – die Universiteit van Potchefstroom, wat jaarliks sy kampus oopmaak vir die Aardklop-kunstefees – dat sy ’n gelukslag gekry het. “Stef het my werk verlede jaar by Aardklop gesien,” vertel sy. “Dit was deel van ’n groepsuitstalling oor sonde. Die dag toe hy na die tentoonstelling gaan kyk het, was ek nie daar nie, maar hy’t glo gesê hy hou van wat hy sien. Gelukkig was my vriendin daar en sy kon hom my nommer gee.” Sy raak stil. Klassieke musiek streel die stilte. “As jy my vra hoekom het Stef my werk raakgesien, sal ek jou nie regtig kan antwoord nie. Ek dink daar’s iets moois in my werk, ek dink my werk het diepte, maar só is daar duisende kunstenaars in ons land wie se werk diepte het. “Ek glo daar was bloot ’n groot engel langs my werk wat gesê het: ‘Check haar uit.’” Stef het nie net een van haar skilderye gekoop nie. Hy vertel: “By Aardklop het ek gesien wat ek al lankal geweet het: dat daar baie interessante skilders in Suid- Afrika is. Daar is baie dinamiek in die kuns. Ek het dadelik besluit haar styl is gepas vir die omslag van die boek.” Ná die fees het hulle mekaar op Stellenbosch ontmoet, waar hulle ’n dinkskrum gehou het vir ’n konsep vir die boekomslag. In die proses is besluit dat Marriana die hele digbundel sou illustreer. Dit was ’n uitstekende geleentheid, want Stef het haar absolute artistieke vryheid gegee. Sy kon kies watter gedigte sy wou uitbeeld en hoe sy dit wou doen. Twaalf pragtige olieverfskilderye het die lig gesien. “Ek’s baie lief vir olieverf. Daar’s meer rykheid. Ek hou daarvan dat dit lyk soos ou skilderye. Ek werk laag op laag. Dinge kom ’n bietjie by, dan krap jy weer af. Dis wat skoonheid vir my is, want dis soos om die lae weg te krap om te kyk wat die essensie is van dinge en mense.” Sy’t ook baie gebruik gemaak van sepiafoto’s en knipsels van musieknote om tekstuur te verskaf. “Ek het nie alles letterlik geïnterpreteer nie. As kunstenaar maak jou brein soveel verskillende skakels dat mense nie altyd verstaan waarom die prentjie by die gedig pas nie,” sê sy. Met sy gereelde besoeke aan SA was Stef soms net so konfoes oor die verband tussen sy woorde en haar beelde.

“Dit was verrassend om te sien watse beelde by haar opgekom het. Sommige prentjies het heeltemal verander. Die prentjie van die twee mense wat dans (foto regs), was eers sonder die twee mense … daar was net ’n teekannetjie in die middel,” vertel Stef. “Later staan daar toe twee dansende mense en ook húlle het weer verander. Waar ek dalk gehou het van ’n vroeër prentjie, is dit vir my belangrik om die verbeelding van die kunstenaar te respekteer.” Albei erken dat hulle gereeld vurige gesprekke oor die illustrasies en gedigte gehad het. “Ons kon baie eerlik met mekaar wees. Ons respekteer mekaar se menings,” verduidelik Marriana. “Daar’s sekere gedigte wat vir my mooi is en ander wat ek moeiliker lees. En so het hy gevoel oor my werk. Hy kon vir my sê wat nie vir hom werk nie en ek kon vir hom sê, maar dit werk nog steeds vir my,” skerts Marriana. “Dit was ’n ontmoeting tussen my visuele wêreld en sy woord-wêreld. En wanneer dié wêrelde ontmoet, kan dit visuele poësie vorm.“Ek hoop die leser word geroer deur die woorde en die prentjies. Ek hoop dat hulle die vraag daarin sal hoor en die antwoord daarin sal soek,” wens sy hardop. Wanneer sy praat, spring Marriana se brein van een onderwerp na ’n ander. Dan praat sy oor skilderye, ewe skielik besef jy julle vergelyk jul musieksmake en sonder moeite kan sy haar kat, Tosca, in die geselsie laat inglip. ’n Mens kan ook sien dat sy die lewe verteer en hoewel sy met die visuele te doen het, steek daar ook digter en filosoof in haar. ’n Antwoord op ’n vraag soos of sy altyd ’n skilder wou wees, kan sonder waarskuwing eindig met ’n lewenswaarheid
soos: “Liefde word in sterkte gebore, daarom kan jy sag wees.”

Marriana het in Parys in die Vrystaat grootgeword waar sy van twee dinge gedroom het: Om te skilder en om verpleegster
te word. “Mense het altyd vir my gevra om prentjies te teken. En dis die ding wat vir my die maklikste gekom het.” Toe sy besef wat verpleegsters se werk behels, het dié droom gesneuwel. Hoewel niemand in haar familie ’n professionele kunstenaar is nie, meen sy haar kuns-geen is te danke aan haar ma, wat lief is om mosaïeke te maak. In 1988, het sy na die Universiteit van Potchefstroom gegaan om die graad B.A. Beeldende Kunste te studeer. Sy’t daar ook ’n prys vir belowendste eerstejaarstudent ontvang. Ná universiteit het sy in die daaropvolgende ses jaar by tersiêre instellings in
illustrasie of grafiese kuns klas gegee en veral aan groepuitstallings deelgeneem. Een van haar groot drome was nog altyd om ’n voltydse kunstenaar te wees en sy kon ’n smakie hiervan kry toe sy in 2001 vir ’n paar maande by die internasionale kunssentrum Cité Internationale des Arts in Parys (Frankryk) kon gaan woon. “Dis ’n ander werklikheid. Jy bly ’n klipgooi van die Seine en die Notre Dame. Jy’t jou eie studio.

“Deel van die high is om te stap met
die trappe na jou ateljee, en jou vel te voel
prikkel van die bewustheid van driehonderd
kunstenaars van oral ter wêreld wat hulself
kom uitleef. Jou oë gaan regtig oop. Ek het
baie lekker daar geskilder.”
Die respek wat kunstenaars in Frankryk
geniet, het haar ’n bietjie groenoog gelaat,
soos sy in Die Burger oorvertel het:
“Kunstenaars word hier (in Parys) ernstig
opgeneem, en ons was bewus daarvan dat
ons meer was as ‘unemployable people
that add an edge to trendy dinner parties,’
soos onlangs in ’n koerant na Suid-
Afrikaanse kunstenaars verwys is.”
Dis ook die Franse Impressionistiese
skilder Claude Monet wat haar veral inspireer.
Sy gryp vinnig ’n poskaart van haar tafel,
wat een van Monet se reeks skilderye van die
katedraal in Rouen, Normandië, uitbeeld.
“Monet se katedrale is verskriklik
mooi. Hy het dit op verskeie tye van die
dag geskilder en almal is in verskillende
kleure. Kyk die tegniek. Daar’s omtrent nie
buitelyne nie. Dis alles net kwashale wat hy
gebruik het om ’n prentjie te maak,” sê sy
in haar dosentstem.
“Vincent van Gogh inspireer my ook.
Albei is kunstenaars wat gees in hul werk
kan vasvang. Wat iets van die onverganklike
binne die verganklike kan weergee. Iets
wat ewigheidswaarde het. Iets waarin ek ’n
stukkie van God se glimlag kan raaksien.”
Marriana is ’n diep gelowige mens. “Die
een element wat altyd in my werk en in my
lewe is, is die natuur. Wolke, bome, lug,
velde … Ek vind my die gelukkigste naby die
grond met die hemele in my kop. Dis almal
ewigheidsdinge. Dis onverganklik en aan
God gekoppel, nie aan mense nie,” sê sy.
Ons sit steeds op die bed en luister
vir ’n ruk na die komponis Arvo Pärt van
Estland se rustige musiek. Hy is een van
Marriana se gunsteling-musici (naas Stef,
natuurlik).
Vrydae is haar dag af en wanneer sy nie
skilder nie, fliek sy graag. Amélie is een van
haar gunstelinge, maar sy meen sy móét
weer na The passion of the Christ gaan kyk.
Dis hierdie omstrede fliek wat haar laat
dink oor die boodskap wat haar eie kuns
moet oordra.

“Ek wil hê my kuns moet liefde, vreugde en vrede in die wêreld bevorder. Daar’s genoeg gejaagdheid en trauma. As ek dink
aan die Suid-Afrikaanse kunstoneel is daar vir my ’n te groot soeke na skok. Daar’s te veel kilheid en kruheid. Daar’s te veel pretensie. ’n Mens skilder die beste wanneer jou siel kaal gestroop is.” Dié les het sy geleer by haar eerste en tot dusver enigste solo-tentoonstelling. In 2001 het sy haar werk, wat sy vir haar meestersgraad in visuele kuns aan die Universiteit van Pretoria gemaak het, uitgestal. “Dit was ’n stadium in my lewe toe ek net wou paint om te impress. Ek het gehoop dat mense sou sê ‘Sjoe, maar jou werk is mooi’. Ek het baie hard gewerk en het gr-o-o-t skilderye gemaak, nie kleintjies soos hierdie nie,” sê sy en wys na die illustrasies vir die bundel. “Ek het gedink my skilderye sou goed verkoop en ek sou my uitgawes kon dek. Maar ek het nie één skildery verkoop nie.” “Moenie so lyk nie. Jy hoef my nie jammer te kry nie,” sê sy sorgeloos. “’n Mens móét daardeur gaan. ’n Mens moet jou eie torings laat val.” Verlede jaar het sy nog ’n vuurdoop gehad toe sy vir die eerste keer ’n kinderboek – Leon de Villiers se Die klein seuntjie en die drake (LAPA Uitgewers) – geïllustreer het. “Ek het my alie afgesukkel. ’n Mens moet ’n gawe hê daarvoor. Ek dink dit help as jy kinders het – wat ek nou nie het nie. Ek het vir my studente gesê om na die seuntjie se gesiggie te gaan kyk, want dit verskil heeltyd. Dit freak my heeltemal uit, want ek moes dit beter reggekry het,” sê sy en lag. Marriana is gemaklik in haar vel. Sonder pretensie, vrolik en met die vertroue om vir haar eie simpelheid te lag, gaan sy deur die lewe. Sy is wat sy glo sy is, ongeag wat in die koerante staan, sê sy. “’n Mens moet groot genoeg wees om te besef dat iemand na jou werk kan kyk en sê ek verstaan dit nie, of dit raak my nie. Dit kan nie almal raak nie. En in elk geval doen jy dit mos nie om eer by mense te kry of om beroemd te raak nie. Jy doen dit omdat dit is wat jy doen. Dis waarmee jy opstaan in die oggend. Met my is dit my prentjies. Hulle is daar en hulle wag om uit te kom op ’n plek, tyd en manier soos wat ek dit toelaat.”