Skryf Here,
skryf,
en voltooi hierdie boek.
Laat die ink vloei
uit U Heiligdom
tot in my are,
in my bloed in
en uit my hand uit.
Hart verloor, siel verpand
moedverloor se vlakte -
soekend en tastend,
dorstig in die woestyn.
Dorings en dissels
in ‘n onversorgde tuin.
My siel se dood
stadig,
soos ‘n turksvyblaar
in die Vrystaat…
Herinnering
die mooiste Garden gate
sagte reën op droë siel
Ek onthou
ek staan op
Stof die stof af
En stap
in die rigting
van die onthou
Ek pak jou op
In die kamers
van my hart
pak ek jou op.
Maak flentertjies van jou
bymekaar in my kop,
en pak jou op.
Ek pak jou op
soos mense oppak na ‘n uitstalling,
stukkies brood en vermorste wyn.
Tekens van lewe
en nadoodse ondersoek.
Prys bereken
van die mooiste skildery,
volle mane wat oorloop van lig -
of was dit alles oë verblindery?
Ek pak die maan op
sit hom in ‘n geel suitcaisie
stil-stil en gewigtig
kom hy saam
soos by die dood
van ‘n geliefde.
Hoog bo in my kas leef hy
Agter slot en grendel
Van’n wilsbesluit
Helder lig skyn onder ‘n deur uit.
Ek pak jou woorde op
Ek hoor hoe hulle kla en stu
Ek luister nie.
Ek pak jou op by vleesbaai op Arvo Part
En verban die herrinering van jou agterkop
Jou mooi hollandse kop
Pak ek sag, maar ferm op
Al dente
Jou voete en die lyn van jou tone
Jou wals en jou drome
Spiegel und Spiegel
Nou sien ons in ‘n spieël
eendag sal ons alles sien
behalwe as ons nie wil nie.
Ek pak ons gesprekke oor God ook op
woorde wat op water probeer loop het
en maak spasie vir ‘n wonderwerk
Niks gebeur mos
In ou kamers
vol stof nie.
Ek sit en ek dink en ek luister fyn
Wind deur bome
Stem in die stilte
Hadedas wat skree as hulle vlieg…
Hoe sag skuil jou oë
verby die klaarmaak Pelleton.
Ek skiet die gedagte
wat my so verraai.
Die sleutel tot die blaaie van my lewe
kon jy so maklik kry
jy was mos bedoel om dit te kry
jy het Hulp gehad
maar bedoel en belofte bedel nie vir ink nie
dit skryf in geloof
of glad nie
Folios van ‘n hoofstuk
Fladerrende velletjies flatertjies papier
soos ek toe ek jou die eerste keer gesien het.
Papier geskenkie -
Hoe vinnig en mooi
kon jy daarop skryf
ink soos olie in die bybel
eindelose bron
met die engele wat papier aandra -
na jou met die hande
gemaak om te skryf
klanklose stem
op wit en swart.
Ek vou dit alles op
in ‘n spierwit vliegtuigie,
en gooi dit
soos ‘n kind
by my hart se venster uit…
En hou my asem op
God ontmoet ons orals
sodat ons orals
mekaar kan ontmoet.
In die middel van al ons wêrelde
het ons ontmoet.
As die Here se reën begin
dra Hy dit met klein
stroompies aan na die groter
rivier tot by jou hart.
Is nie swewend soos mis nie
dis akuut soos ‘n bysteek
‘n jeukerige swelsel
die herinnering.
Soveel soeke na ‘n beminde
soveel afdraaipaaie
en vermorste jare.
Soveel skryf, soveel briewe
soveel uitgestorte liefde
soos saad geval op klippe.
Here, ek draai my rug
en ek draai my terug
loop uit die arms
van die skimme
in die arms in
van die Beminde.
Ek vou myself knus toe in ‘n trui
en verbeel my dis U arms.
Ek sal by U kom skuiling soek
en myself toetrek in die Hoop
soos mens komberse om jou toetrek
in die winter.
Ek sal nuwe lewe inasem
en diep, diep onder U vlerke
Verskuil
Sal ek sing
U is beskerming! Tra la la
U is die Beminde! Tra la la
U is die Hoop! Tra la la
U is my Vader! Tra la la
En U,
U is
my vriend -
bondeltjie niks wat ek is
kom U en voeg waarde by.
Maar dis is na die Trooster
wat ek vandag my draai
en roep
Abba Vader, Abba!
En sal ek soos ‘n klein dogtertjie
teen U borskas kom lê,
en myself uithuil teen U.
In die tuin van Eden
sing-sing die voëls,
en die drome in die Gees
vloei deur klanke na die vlees.
Hoe vêr moet ek gaan
om van U drome te ontsnap?
want ontsnap ek hulle
ontsnap ek myself
En maak niks meer sin nie.
Daar is ‘n rede
hoekom Adam en Eva
in ‘n tuin
vir U lief was.
Sing, voëltjies, sing.
Sy staan
hart na binnetoe
lyftaal na buite.
Geen omdraai meer.
Vasberade, vasbeslote
uitverkoopte, varsgewaste
skoongemaakte,
prysbetaalde -
geliefde van die Geliefde.
Somer is daar vye, granate en engele
wat sing dat die winter verby is.
Gaan sag heen
Vriend
Gaan sag heen
In my hart.
Al loop die kronkelpaaie
dwarsdeur die koudste nag
Gaan sag heen
Vriend
Gaan sag heen
In my hart.
Al speel die woorde dood
En lieg hul somtyds sag
Al bly die waarheid skimme
Al koggel jy die dag.
Gaan sag heen
Vriend
Gaan sag heen
In my hart
Al loop jy vreemd vêr paaie
Al word die maande jare
Al roep ek in die donker
En die donker
Antwoord
Stil.
Gaan sag heen
Vriend
Gaan sag heen
In my hart.
Want
Iewers êrens nêrens
Groei die saadjie van jou glimlag
Orals
En die kronkel kronkelpaaidjie toegegroei
Met raserige leë woorde
net nog ‘n rede vir die onthou
van grenslose blou
En oralsom see
En twee
Wat soos een
Kon liefde gee.
Gaan sag heen
Vriend
Gaan sag heen
Oralsoor
My hart
As ek terugkyk
op die vuur en die woestyn
die dood van ‘n kind
die son se brand en steek
Weet ek –
daar is geen plek
wat U nie was nie.
Op ‘n bed
in ‘n aborsiekliniek
my sonde en my skande
rou en oop
my wond groot
trek U ‘n lyn in die sand
en in die vreemde,
verstote
raak ek verlief
op die God van die Liefde.
Ek stuur vir jou
‘n stukkie geel somerson
die inhoud saamgevat
uit ‘n suitcaisie
op die solder
van my hart
wyn, woorde en prentjies
in die kerkie
- cum gallery
en musiek
van onbekende bron
maar mooi genoeg
vir ‘n glimlag
sonstrale
op ‘n dag
van sneeu en as
ek stuur jou ook
‘n T-shirt
lank reeds bekom
en nooit gegee
baie bright
soos ‘n Afro by ‘n teeparty
onder winter se grys mantel
stook dit die vure
soos ‘n konka in Johies
in die middel
van die nag
as dit te klein is
gee dit vir iemand
vir wie jy lief is
ek stuur jou ook
‘n lekseltjie tussenin woorde
en ‘n foto
vergete soos laatmiddag wasgoed
op ‘n besige dag
onverwags het dit my betrap
soos die verkeerde klere
in die verkeerde seisoen
en dan
twee portrette -
van ‘n man wat is
en ‘n man
wat was
vasgeknoop aan mekaar
soos die naelstring
aan die hoop
winter en somer in jou hande
ek stuur dit alles
as ‘n eens beminde
amper gekende
meisiemens
nou reeds
meer mens
as meisie
‘n brug tussen gister
en vandag
sjuut…luister
jy kan die see daarin hoor lag
maak toe jou oë en sien (beminde)
so tussen see en gras
en voëltjies
en getye en trane
wat verlate uitspoel
op strande
stuur ek vir jou liefde
in hierdie mettertyd -
in hierdie rooi seisoen
toegedraai in sagte papier
nerolie olie
balsem vir die hart
afgemeet
en uitgedrup.
Ek pak my klere
ek pak my hoop
ek pak ‘n geldjie
om iets langs die pad te koop.
Ek maak my tenk vol
met beloftes en geloof.
Ek pak ‘n glimlag van God in my hart in
en hoor ‘Wees braaf, wees sterk’
Ek pak myself in,
my denke, hart en verstand.
Ek soek my kaartjie,
kyk daarna en lees:
Kind van Jesus Christus van Nasaret
Staan op en Lééf!
Ek sien die pad
die Waarheid
en die Weg
en laai gister af
soos ou klere
by die Salvation Army Shop.
Ek kyk op
ek vat my hoop
en loop.
Liefde is iemand
wat die oorlog uit oë haal
en die vyandskap
‘n wit vlag laat hys.
In die woestyn
het U my ingelei.
Soete water vloei
deur hardgebakte siel
en kom tot rus.
Jare loop ek trots – onbeskaamd vlees
en verlustig my in my afwykendheid.
Hoe het U dit met my uitgehou?
Tog stuur U die engele, ‘n sagte woord hier
en ‘n asemteug daar,
terwyl my siel sukkel om kop te hou
en ek verdrink in my sonde.
Daar, daar in bitter waters
het U na my gaan soek -
daar waar dit gestink het
van wellus en verraad.
Ak kon my ore nie glo nie
U wou my hê
ek, marriana?
…
En bitter waters word soet.
‘n klein gedig
ingestamp en afgemeet
soos sardyne in ‘n pilchards blik
reg om te eet op toast by tee -
êrens in die oggendson.
Verpak
as ‘n borrelende haasbek-lag
van ‘n kind,
vol geloof, hoop en liefde,
om die storms te deurstaan.
En laastens, ‘n duisend danse
op die maat van die oseaan
een, twee, drie
een, twee, drie
vir hierdie dag van geboorte
en nuwe lewe
wat orals soos sterre
aan bome hang
…en wink
…en sing
Net God weet
wanneer die oe lag
en die hart huil
Net God weet
wanneer ek agter vriendelikheid
en beleefdheid skuil
Kyk, ek loer om my eie hart
toegemaak soos stom klei
onder ‘n klam lap
Die hoop stilgemaak
berispe soos ‘n stout kind
sit my op my plek
gooi my in die storms
maak van my niks
want niks is ek nie
Klein hopie menswees
opgekrul soos ‘n skulp
‘n Lang roep in stil wind
Hart wat klop
polsende rooi bloed in my are
Ek leef nog
Tel my op
en gooi my ver-ver in die lug
soos ‘n Vader ‘n kind
klein bietjie aarde
doer onder
Groot is my hoop
Ek sal nie ophou glo nie
al lag tiendduisende my uit
uit hierdie put sal ek klim
My lippe
sal U naam besing.
Paulus, het jy geweet
toe jy die reise begin het
hoe lank dit als sou vat?
Nee, antwoord hy
want dit was nooit myne nie,
dit was Syne.